Malgas

Presies 42 km van Bredasdorp af, 42 km van Swellendam af, en ‘n moontlike papwiel later, reg in die middel van dié twee is Ouplaas. Maar dan moet jy ook nie jou oë te lank knip nie of jy het dalk al verby gery, want Ouplaas is klein, sommer baie, baie klein.

Hier het ek die grootste deel van my kinderlewe deurgebring. My pa was die skoolhoof van die plaas skooltjie, of Meester, die bynaam wat die mense van die omgewing vir hom gegee het.

Ek sal ‘n ander dag meer oor Ouplaas vertel, want dit is nie ‘n storie wat ek binne ‘n uur en met net een koppie koffie kan vertel nie.

Op Ouplaas was my pa en Juffrou Lou verantwoordelik vir ons boeke geletterdheid, maar Ouplaas was so klein dat ons nie ‘n vaste dominee of selfs elke Sondag kerk gehad het nie. Bredasdorp se dominees het darem deurgery na ons toe vir aand bidure, Pinkster en dan ook sommer die kinders van die omgewing gedoop.

Eenmaal ‘n maand het Ds Muller van Swellendam af deurgery na die kerkie op Malgas daar naby om te sorg dat ons darem ook op die straight and narrow paadjie bly en dan het ons sommer ook ons Sondagskool les direk na dit gehad. Eenmaal ‘n maand op ‘n Saterdag aand is daar dan ook verwoed Sondagskool huiswerk gedoen, want 4 weke se Sondagskool huiswerk moes vinnig ingehaal word voor die kerk se klok 10 uur slaan die volgende oggend.

Malgas se ligging

Malgas was nog ‘n entjie se ry van Ouplaas af. Op Malgas was ‘n klein winkeltjie, die pont, ‘n paar vakansie huise en ook die klein klip kerkie. Ek het intussen verneem dat daar nou ook ‘n hotel is.

As jy net ‘n deurry besoeker by Malgas is, praat jy van Malgas. Maar as jy ‘n regte egte Malgas local is, praat jy van Malagas en dit rol so van jou tong af, Ma-la-gas, maar sonder om vreemd te klink. Ek was net ‘n deurry besoeker want Malagas het nooit so van my tong af gerol nie.

Malgas se kerkie is regtig iets besonders. Die hele buitekant is van klip. Die binnekant het geruik na naskeermiddel, parfuum, hout politoer en lank toestaan. Ek dink my grootste vrees as ‘n Sub A dogtertjie was dat ek per ongeluk daarbinne toegesluit sou word en eers weer oor ‘n maand gevind sou word. Links, langsaan die kerkie, onder die bome, was ‘n bitter klein kerkhoffie. Nog ‘n rede hoekom ek vinnig daar uitgehardloop het na Sondagskool les en seker gemaak het ek word nie daarbinne toegesluit nie.

Malgas se kerk http://www.visitswellendam.co.za

Malgas se grootste trekpleister is seker sy rivier. Ons het Sondag middae óm gespeel langs die rivier. Ek onthou nog hoe die riviersand soos plaasdam modder tussen ons tone deurgedruk het. Die water daar lyk natuurlik soos sterk getrekte rooibos tee. My ma het altyd volstrek geweier om haar voete in daardie water te steek, “want ek sit nie my voete in iets waar ek nie eers my voete of die bodem kan sien nie.” Ek het altyd vas geglo dat Oom Gawie de Wet se Malgas tamaties juis so soet was as gevolg van daardie donker, rooibos tee gekleurde water. Nou dat ek meer weet, besef ek dat dit dalk net jêm tamaties was, maar kleintyd was daardie water vir my magical.

Die ander trekpleiser was natuurlik die pont. Daarmee kan mens oor die Breërivier gaan sonder om die lang ompad te ry na Witsand se kant toe.

Ons het in 2008 vir oulaas met die ou pont oor die Breërivier gegaan

Die pont het flappe gehad wat laat sak is dat mens met jou kar daarop kon ry. Daar was ook ‘n baie sterk kabel. Die persoon wat die pont help trek het, het ‘n leer harnas/belt aangehad. Daaraan was ‘n ketting vas. Die ketting het dan om die kabel geswaai en gehaak en dan stap die persoon na die agterkant van die pont om die pont vorentoe te trek. Die ooms wat oorgegaan het, het altyd vir die aardigheid baie ywerig begin pont trek en dan agtergekom dat hulle nie eintlik pont fiks was nie en die harnas maar oorgegee aan die mense wat al meer geoefen was om dit te doen.

Party Sondae het ons kinders heeldag heen en weer saam gery op die pont. In die middel van die rivier was altyd ‘n briesie wat mens se kuif kom deurmekaar krap het en dit was die mooiste klank as die rivier water so teen die pont klots.

2008 bo-op die pont

Die pont is onlangs deur ‘n nuwe meganiese pont vervang wat dit natuurlik makliker en vinniger maak vir die mense en boere wat daagliks oor die Breërivier moet gaan, maar ek dink tog dat daar ‘n bietjie van die nostalgie van die ou pont verlore gegaan het.

Sondae voor mens die lang draai en bult by Malgas uit gery het, is daar eers by die winkeltjie gestop vir die Rapport en gesiggie lekkers en winegums. Daardie Rapport is dan ook van voor tot agter óp gelees, want daar was eers weer oor ‘n maand die Rapport se (slegte- en skinder) nuus. Hoe wonderlik sou dit nie wees om nou ook net eenmaal ‘n maand die Rapport se slegte nuus te lees nie. Ek spot sommer net.

Groetnis tot volgende keer….

Published by Wineta Wiese

Ek woon saam met my man en 2 kinders in die Boland. Bedags is ek 'n "boontjie teller" en saans word my stories geknoei agter die kospotte of as ek ons seuntjie se spelwoorde vra. Ek is lief vir die lewe en in diepe afhanklikheid en vol dankbaarheid vir die Here se genade.

One thought on “Malgas

  1. Wineta, jy het my sommer lekker op memory lane gevat. Ons het een vakansie daar naby Malgas vakansie gehou. Die pont was vir my kinders ‘n besondere ervaring. Waar ons vakansiehuisie was, was daar geen selfoon opvangs nie en ons het ‘n baie rustige en stil Kersfees langs die rivier ervaar. Ons het met ons opblaas bootjie op en af op die rivier gery.

    Liked by 1 person

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started